Tuesday 18 April 2017

Jesus het antwoorde wat ons almal nou nodig het. Om tyd in gebed te spandeer help ons om antwoorde, lyding en ondersteuning te kry wat ons nodig het.

"Dankie Jesus dat U elke gebed van my hoor en antwoord. Soms het dit gevoel as U my verlaat het, maar eintlik was dit net ek wat weggedraai het van U af omdat ek nie wou weet dat ek verkeerd was nie want alles het net so reg gevoel. Vergewe my asseblief. Ek dank U dat U my situasie gered het en dat U my weer laat straal het. Dankie dat U my behoeftes vervul op U manier en nie myne nie. Vandag vind ek myself in ñ "Jesus bliss bubble" van geloof en warm liefde."

Ek kan waarlik getuig dat Jesus Christus bestaan en dat Hy elke dag en elke nag met ons is. Moet nooit hoop verloor nie, want wanneer alles donker lyk, toets God ons geloof en Hy beplan ñ weg uit. My geloof het my nog nooit in die verlede in die steek gelaat nie. Soek God in die moeilike tye en ek belowe jou jy sal hom vind. Hy hoor jou roepe. Moenie moed verloor nie. Wat het ons as ons nie eers kan hoop nie? As ons nie eers kan glo nie?

Ons almal het donker dae. Dinge wat gebeur maak ñ mens moedeloos maar dis alles deel van beproewing.

Die verlede is verby, die toekoms het nog nie gebeur nie so al wat ons regtig het is die hede en as die hede nog donker lyk moenie bekommerd wees nie want God sal nooit iets op ons pad sit wat ons nie kan hanteer nie.  Daar is altyd lig aan die ander kant van die donker tonnel. Dis juis deur die donker dae wat God ons dra. As jy ñ fout gemaak het onthou net dit is nie hoe groot jou fout is wat jou opsom nie dis hoe jy opstaan en daardie fout herstel wat jou opsom en vorm.

Ek dink terug aan my foute wat ek gemaak het wat amper my huwelik verwoes het. Ek het nie my karma gesien as ñ staf nie maar wel as ñ lewensles. Ek is deur ñ jaar van hel en al wat ek gehad het was geloof en hoop. My geloof het my nog nooit laat val nie en alles is nou weer in balans. Ek kyk terug op my lewenspad en ek sien God se plan. Ek is presies waar ek moet wees. Selfs die vriende wat ek in die proses verloor het moes so gebeur het want God gee nie vir jou die mense wat jy wil hê nie, Hy gee vir jou mense wat jy nodig het. Om jou te help, om jou seer te maak, om jou lief te hê en om van jou die persoon te maak wat jy veronderstel is om te wees.